Die Handves

Deur My Broer se Braai Bril: Hoekom die Braai Bril... die ontstaan

Elke man het 'n Broer nodig. Nie 'n perfekte een nie, net een wat al deur die vuur geloop het en die pad wys. Hierdie is die storie van hoekom ons MBSBB gebou het.

27 Junie 2026

Die Oomblik

Ná middernag lyk die vuur anders.

Nadat mamma en die kinders lala land toe is — en saam met haar, die reëls. Skielik, sonder dat iemand dit aangekondig het, word die man weer homself.

Sagte fluisterstemme met die skink van nog 'n branna word die lag al harder. Die dag se stories reguit en eerlik. Niemand hou meer in nie — nie die woorde nie, nie die wind nie, en beslis nie die opinies nie. Die kole gloei. Die glas doen sy werk en 'n plank vleisie doen sy rondte in 'n oomblik van stilte — die gemaklike stilte tussen 'Brothers in Arms' wat Dire Straits tokkel op die ou draadloos. En die man wat bedags versigtig trap, sit nou al nader voor die vuur en praat oor die dinge wat saak maak.

Hierdie is die oomblik wat niemand ooit beskryf nie. Almal praat oor die braai — die vleis, die lag, die geselligheid. Maar niemand praat oor hierdie oomblik nie. Die een wat agterbly as alles stil raak.

In hierdie oomblik dink jy. Jy dink aan wat was. Jy dink aan wat kom. En as jy werklik eerlik is — jy dink aan wat jy wens iemand jou vroeër geleer het.

My Broer se Braai Bril is gebore in hierdie oomblik.

Die Afwesigheid

Ek het nie 'n broer gehad nie.

Nie een van daai broers nie. Nie een wat vir jou sê wanneer 'n meisie nie die moeite werd is nie. Nie een wat jou wys hoe om 'n man te wees sonder om jou te vertel hoe om 'n man te wees nie. Nie een wat die verkeerde pad al geloop het sodat jy nie hoef nie.

Ek moes maar self uitvind.

En ek moes maar soos baie ander... Op die harde manier. Hardegat word sag gestamp, verkeerde besluite, die vertroue wat misplaas was, kanse wat gemis is, daai monstertjie skool girl wat jou agter die skool gym dik gevry het maar wat jou legacy eintlik skade berokken het — alles wat 'n ouer hand in vyf minute kon vasvang, het ek oor jare self noodgedwonge moes leer.

Dit is nie 'n klagte nie. Manne sonder broers word ook groot. Maar ek sal eerlik wees: dit kos meer. Dit neem langer. En sommige van daai lesse laat littekens wat nooit heeltemal verdwyn nie.

Eens op 'n aand — net soos jy al vele male ervaar het, ná middernag, die vrou en kinders is al lankal in die bed — het ek gewonder hoeveel manne daar buite dieselfde gevoel ken. Die gevoel dat jy altyd 'n bietjie agter is. Dat jy dinge altyd te laat uitvind. Jy wens jy het daai een iemand gehad of daai een iemand wat voorheen daar was maar nie meer is nie...wat net vir jou kon sê: "Moenie. Ek het dit al probeer. Kyk eerder hierna."

Baie, het ek besluit. Baie te veel.

Die Bril

My Broer se Braai Bril is nie net 'n manier van sien nie.

Dit is 'n positiewe beweging.

Dink so daaraan: My Broer leef. Hy het gevoel, geval, opgestaan, verkeerd gegaan, reg gegaan, gely, gelag en geleer. En al daai jare — al daai kole wat hy al gesit en kyk het — het iets in hom gebou. 'n Perspektief. 'n Lens. 'n Manier om die wêreld te sien wat net iemand kry wat die pad al gestap het.

As hy vir jou die Bril gee, gee hy jou sy oë.

Jy kyk deur sy ervaring. Jy sien wat hy sien. Die man agter die glimlag wat jy eers nie vertrou nie. Die kans wat lyk soos 'n risiko maar eintlik 'n geskenk is. Die vrou wat sê sy's fine maar beslis nie fine is nie — en hy weet, want hy het daai gesig al gesien.

Jy hoef nie elke les self te koop nie. Jy hoef nie elke muur self te tref nie.

Sit die Bril op. Kyk deur sy oë. En stap 'n bietjie slimmer as wat hy moes.

Die Broers Wat Nooit Gesien Is Nie

Elke man het iemand in sy lewe wat hierdie Broer was vir hom.

Dalk nie sy bloedbroer nie. Dalk 'n pa. Dalk 'n oom wat nie veel gepraat het nie maar altyd op die regte oomblik opgedaag het. Dalk 'n buurman. Dalk 'n afrigter. Dalk iemand by die werk wat jou eenkeer iets gesê het in die verby loop wat jy nog elke dag gebruik.

Jy weet wie ek bedoel.

Die man wat gedra het sonder om te kla. Wat opgedaag het sonder dat iemand hom gevra het. Wat moeilike dinge maklik gemaak het deur net daar te wees. Wat sy eie storms stil geveg het terwyl hy nog tyd gemaak het vir joune.

Hy het nooit 'n toespraak gekry nie. Geen eredoktorsgraad nie. Geen artikel in die koerant nie. Hy het net geleef — en vir die mense rondom hom gemaklikker om te leef.

En een dag is hy weg. En ons staan by die graf en dink aan alles wat ons nooit vir hom gesê het nie. Maar belangriker, skielik probeer ons sy stem onthou...probeer ons onthou wat daai ding is wat hy altyd gesê het.

My Broer se Braai Bril bestaan vir hierdie man. Om hom sy blomme te gee terwyl hy nog kan ruik. Om sy storie te vertel terwyl sy stem nog klink. Om te sê, hardop en sonder skaamte: hierdie man het saak gemaak. Hierdie man was My Broer.

Hoekom Ons Die Bril Gebou Het

Op 'n punt besluit jy iets.

Jy besluit dat die afwesigheid nie meer 'n gebrek is nie — dit is 'n opdrag. As niemand vir jou die Broer was nie, dan word jy dit vir iemand anders. Nie uit plig nie. Uit keuse. Uit die wete dat as jy die pad alleen moes stap, jy nie wil hê iemand anders ook hoef nie.

Ek het My Broer se Braai Bril gebou vir die man wat ná middernag alleen by die vuur sit en wonder.

Vir die man wat vrae het wat hy nie weet by wie om te vra nie. Vir die man wat foute maak wat 'n ouer hand kon verhoed het. Vir die man wat iemand se Broer wil wees maar nie weet hoe nie. Vir die man wat 'n Broer gehad het en hom al lankal wil bedank maar nooit die regte woorde kon kry nie.

En hier is die eerlike deel: ek het dit ook vir myself gebou.

Want as jy 'n plek skep waar wysheid gedeel word — waar manne mekaar se Bril optel en sê "kyk hierso" — dan is jy ook nie meer alleen nie.

Kom Sit By Die Vuur

Daar is plek langs die kole. Bring jou stoel. Bring jou stories. Bring die vrae wat jy al jare saamdra en nog nooit die regte oomblik gevind het om te vra nie.

Hier word dinge gedeel. Lesse wat duur gekoop is, gratis aangebied. Stories van manne wat die pad geken het. En ja — soms ook iets wat My Broer gebruik het, iets wat hy vertrou het, iets wat deel geword het van sy storie. Dit staan ook op die rak. Nie omdat dit verkoop moet word nie. Omdat dit die moeite werd is.

Ons bou hier iets wat ons nooit gehad het nie.

Die vrou en kinders is in droomland. Die nag behoort aan ons 'Brothers in Arms'.

Sit die Bril op.

My Broer se Braai Bril

Sien die lewe deur die bril van my Broer

Stuur vir ’n broer

WhatsAppFacebook
← Terug na die blog